Die Nagorno-Karabach-konflik van 2020 was 'n gewapende konflik tussen die magte van Azerbeidjan en Armenië, tesame met die selfverklaarde Artsach in die Nagorno-Karabach-streek, en was die nuutste eskalasie van die onopgeloste Nagorno-Karabach-konflik. Die botsings het die oggend van 27 September2020 langs die Nagorno-Karabach-kontaklyn begin. Beide kante het militêre en burgerlike ongevalle gerapporteer.[1] In reaksie op die botsings het Armenië en die selfverklaarde Republiek Artsakh krygswet en algehele mobilisering ingestel,[2][3] terwyl Azerbeidjan krygswet en 'n aandklokreël ingestel het.[4] Op 28 September is gedeeltelike mobilisering in Azerbeidjan afgekondig.[5] Die Verenigde Nasies het die konflik ten sterkste veroordeel en 'n beroep op albei kante gedoen om om spanning af te skaal en sonder versuim betekenisvolle onderhandelinge te hervat.[6]
Na die inname van Shusha, die tweede grootste nedersetting in Nagorno-Karabakh, is 'n vredesooreenkoms onderteken tussen die president van Azerbeidjan, Ilham Aliyev, die premier van Armenië, Nikol Pashinyan, en die president van Rusland, Wladimir Poetin, wat gevegte beëindig het. Vyandelikhede in die gebied is vanaf 00:00, 10 November 2020 Moskou-tyd gestaak.[7][8][9] Die president van Artsakh, Arayik Harutyunyan, het ook ingestem om die vyandelikhede te beëindig. [10] Volgens die ooreenkoms sou elke strydende party die gebiede behou wat hulle in daardie stadium beheer, terwyl Armenië ingestem het om ander besette gebiede rondom Nagorno-Karabakh aan Azerbeidjan terug te gee. Azerbeidjan sal ook toegang tot grond verkry tot sy Nachitsjewan-enklawe wat aan Turkye en Iran grens. [11] Byna 2000 Russiese soldate, onder leiding van luitenant-generaal Rustam Muradov, [12] is aanvanklik as vredesmagte ingespan om die landkorridor tussen Armenië en Nagorno-Karabakh te bewaak met 'n mandaat van minstens vyf jaar.[13]